TEOPNEUSTIE

TEOPNEUSTIE. Die leer oor die inspirasie* van die Bybel* (sien 2 Tim 3:16) is deur die eeue intens gedebatteer omdat dit deurslaggewend is vir die interpretasie van die Skrif (Skrifbeskouing*). Volgens die meganiese interpretasie (Kyk by: Inspirasie­teorieë) is Bybelskrywers oorweldig deur die Gees* van God en het hulle slegs neergepen wat die Gees aan hulle voorgedra het. God het dus self as ’t ware die boodskap in hulle “ingeadem” (Grieks: theopneustos) en enige vorm van mens­likheid in die proses van oordrag is opgeskort, sodat elke woord foutloos is.

Teenoor hierdie fundamentalistiese (Kyk by: Fundamentalisme) interpretasie staan die organiese siening wat leer dat God die Bybelskrywers se persoonlikhede en vermoëns nie uitgesluit het nie, maar juis in diens gestel het. Daarom is daar vier Evangelies* wat elkeen uit ’n spesifieke perspektief ’n bepaalde boodskap oor Jesus* aanbied. Hiermee word die menslike faktor sterker verreken en word aanvaar dat daar verskille is tussen Bybelboeke wat nie weggepraat kan word nie, maar God se betrokkenheid word ook nie ontken nie.

Die meeste Christen-navorsers aanvaar dat die Bybel in sy huidige kanonieke* vorm van 66 boeke vir die kerk* gesaghebbend is (Kyk by: Skrifgesag), omdat die kerk onder leiding van die Gees tot die besef gekom het dat slegs hierdie boeke geïnspireer is. Ander buite-Bybelse tekste help ons egter om die geskiedenis van die Bybelse tye beter te verstaan.

Uiteraard is daar ook navorsers wat God se betrokkenheid by die daarstelling van die Bybel ontken.

(Kyk ook by: Bybel; Bybel: Mondelinge oordrag en teboekstelling; Bybelse norme; Bybelvertalingmetodes; Heilige Skrif; Skrifbeskouing; Skrifbewys; Skrifgebruik in die etiek; Skrifgesag; Skrifuitleg; Teksuitleg.)

 

Sidebar