TEOSENTRIES

TEOSENTRIES is ’n samestelling van die Griekse* woord vir God, Theos, en die woord “sentrum”. Die betekenis van die woord is om God in alle teologiese nadenke asook in die praktiese godsdiensbeoefening in die sentrum te plaas. Teosentriese denke is sedert die Hervorming* een van die sentrale boustene van die gerefor­meerde* teologie*. Nie die mens nie, maar God moet in die middelpunt van elke faset van teologie-beoefening te staan kom en Hy moet in alles geëer word. Wat die praktyk van die lewe betref, moet nie die mens se wil nie, maar God se wil* altyd eerste gestel word. Hierdie benadering staan teenoor ervaringsteologie* wat die méns en sy ervaring in die middelpunt stel. Teo­sentriese denke staan nie teenoor Chris­tosentriese denke nie, maar sluit dit in, want teosentriese denke gaan juis oor die drie-enige God (Kyk by: Drie-eenheid) en nie net oor die Vader* nie.

Sidebar