TERMINALE SIEKTE

TERMINALE SIEKTE is ’n lewensbedreigende siekte. Dit is ’n siekte wat dikwels nie net alleen vir die persoon wat daaraan ly, ’n bestaanskrisis veroorsaak nie, maar ook vir die naasbestaandes.

’n Terminale siekte het ernstige fisieke, emosionele, sosiale en godsdienstige aspekte. Op fisieke vlak is een van die hoofpro­bleme dikwels die hantering van akute of kroniese fisieke pyn, terwyl ander uiters onaangename ervarings soos spysverterings­probleme, naarheid en braking, asemha­lingsprobleme en dehidrasie ervaar word. Emosionele reaksie omvat die wye area van skok, ontkenning, woede en ’n treurproses oor dit wat afgelê word. Op sosiale vlak handel dit veral oor wat die invloed van die naderende dood op naasbestaandes is, asook die effek daarvan op rolle in die fa­mi­lie, die werkomgewing en die wyer gemeenskap. Op godsdienstige gebied het dit veral te doen met die vraag na die sin van die lewe. Godsdienstige mense hou hulle dikwels besig met vrae oor die lewe ná die dood.

Vandag word sterwendes veral in hospitale en inrigtings aangetref. Die pastorale sorg wat hier verrig word, behoort op die ondersteunende funksie te konsentreer waar die nabyheid van God konkreet geïllustreer word en daar geleentheid tot emosionele ontlading is. Pastorale leiding help die sterwende om vas te hou aan God se trou, nou en hierna, en begelei haar/hom tot ’n betekenisvolle geloofslewe in die sterf­ure.

Sidebar