TETZEL, JOHANN

TETZEL, JOHANN (1465–1519) is in Sakse, Duitsland, gebore. Nadat hy grade in teologie* en filosofie by die universiteit in sy geboortedorp verwerf het, het hy in 1489 by die Dominikaanse Orde* aangesluit en ’n monnik* geword. In 1502 is hy deur die pous* aangestel om aflaatbriewe* (Kyk by: Aflaat) met die oog op die jubeljaar te verkoop ten bate van die St Petrus-basiliek (Kyk by: Vatikaanstad). In 1518 het hy sy doktorsgraad in die teologie by die Uni­ver­siteit van Frankfurt verwerf en in sy tesis het hy die leer van die aflaat verdedig. Die verspreiding van die aflaat het vinnig veld gewen met Tetzel se klingel wat hy in sy veldtogte gebruik het:

Sodra jy jou geld na die kerkkas bring,

sal ’n kosbare siel* uit die

vaevuur* spring.

Tetzel se diensreeks en optrede in Jüterbog, ’n klein dorpie naby Wittenberg – en die skares wat daarheen opgeruk het – was waarskynlik die direkte oorsaak dat Martin Luther* sy 95 stellings teen die kerk­deur vasgekap en daarmee die begin van die Reformasie/Kerkhervorming* aangekondig het.

Tetzel is in ’n later stadium aan onsedelikheid en korrupsie skuldig bevind. Hy is heelwat later van al die aanklagte teen hom vrygespreek.

Sidebar