TEUDAS

TEUDAS. Die Joodse* geskiedskrywer Flavius Josefus* berig in sy geskiedeniswerk Joodse oudhede (Ant 20,97-99) dat tydens Kuspius Fadus se goewerneurskap oor Palestina* (44–46 nC) ’n sekere Teudas as profeet* opgetree het. Volgens hierdie berig het hy met ’n skare mense na die Jordaan* getrek, waar hy beoog het om die Jordaanwonder tydens die intog in die beloofde land te herhaal (vgl Jos 1–3). Daarop het Kuspius Fadus berede soldate gestuur om die skare te verjaag en het hy Teudas laat onthoof. In Hand 5:34-37 laat Lukas* ’n lid van die Sanhedrin* met die naam Gamaliël* na bg ge­beurtenis verwys. Volgens Gamaliël (soos Lukas hom aanhaal) het Teudas egter vóór Judas* die Galileër, “wat in die tyd van die volkstelling in opstand gekom het” (vgl Luk 2:1-3), opgetree. Afhangende van hoe Luk 2:1-3 se gegewens oor die volkstelling tydens Sirenius* se goewerneurskap oor Sirië* histories beoordeel word, moes Teudas dan vóór 7/6 vC of vóór 6/7 nC op­ge­tree het. Dat dit by Josefus en Lukas oor verskillende persone gaan, is uiters on­waarskynlik. Gewoonlik neem historici aan dat Hand 5:36 ’n anachronisme is (= ’n gebeurtenis geplaas in ’n tyd toe dit onmoontlik kon gebeur het).

 

Sidebar