THEMA, RICHARD VICTOR SELO­PE

THEMA, RICHARD VICTOR SELO­PE (1886–1955) is op Ga-Mamabolo naby Polokwane/Pietersburg gebore en ontvang sy basiese skoolopleiding aan ’n sending*­skool. Sy ouers was nie Christene nie, maar die Mamabolo-stam waaraan hulle behoort het, het noue kontak met sendelinge* ge­had.

Sy skoolopleiding word tydens die Anglo-Boereoorlog* onderbreek, maar aan die begin van 1903 hervat hy sy studies en skryf later in by Lovedale* in die Oos-Kaap waar hy sy Junior Sertifikaat behaal. Na ’n jaar as onderwyser word hy ’n klerk voordat hy in Johannesburg by die vryheidstryd betrokke raak en lid word van die ANC.

Thema was in 1919 lid van die ANC se afvaardiging na Brit­tanje om steun te werf vir swartmense in Suid-Afrika se regte en skryf hom terselfdertyd in vir ’n kursus by die London School of Journalism.

Sy leierseienskappe word gou raakgesien en hy raak aktief betrokke by gesprekke oor swartmense se omstandighede in die land. In 1932 word hy redakteur van Bantu World en omskep dit tot ’n sterk politieke spreekbuis vir swart aspirasies.

Thema dien tot in 1949 in die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee. Hy was gekant teen die alliansie tussen die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party asook teen die militante benaderings van die leiers in die destydse ANC-jeugliga.

In 1952 tree hy uit as redakteur van Bantu World en tot sy dood was hy ’n woord­voerder vir morele weerbaarheid.

 

Sidebar