THERON, CHARLES PETRUS

THERON, CHARLES PETRUS (1844–1924) is in die Paarl gebore. Ná sy teologiese opleiding op Stellenbosch het hy vir ongeveer ’n jaar in die NG Sending­gemeente Middelburg (Kaap) gewerk voordat hy in 1873 vir die res van sy bediening predikant* van die NG Gemeente Bethle­hem geword het. Hy het gou ná sy aan­koms op Bethlehem begin om dienste vir swartmense te hou. Hy oorreed die kerk­raad om ’n sending*kommissie te benoem. Baie gou het hulle besluit om ’n kerkgebou vir die swartmense op te rig en ’n kategeet aan te stel. In die nadraai van die Basotho-oorloë was dit ’n merkwaardige besluit. In 1879 is besluit om ’n sendeling* aan te stel wat eers 20 jaar later ’n werklikheid geword het. Theron het hom beywer vir ’n sendingprojek op Witsieshoek wat uiteindelik uitgeloop het op die totstandkoming van die Stofberg-gedenkskool vir die opleiding van inheemse werkkragte. Hy is gekies as die eerste voorsitter van die bestuur. Theron het ook hard gewerk om ’n sinodale verband vir die NG Sendingkerk*-gemeentes in die Vrystaat daar te stel. Dit het in 1910 gebeur. Die vergadering wou Theron as moderator* verkies, maar is daarop gewys dat dit liefs ’n sendeling moes wees. Eerw HA Roux is toe verkies.

Sidebar