THERON, ERIKA

THERON, ERIKA (1907–1990) wat op Tulbagh gebore is, se lewe is ’n verhaal van eerstes: eerste professor in maatskaplike werk in Suid-Afrika; eerste vroulike lid van die raad van die Uni­versiteit van Stellen­bosch; eerste vroulike kanse­lier van ’n Suid-Afri­kaanse universiteit (Universiteit van Wes-Kaap­land); eerste vroulike burgemeester van ’n Suid-Afrikaanse dorp (Stellenbosch); stigter en eerste redakteur van die tydskrif vir maatskaplike werk. “Die verhaal van haar lewe is in baie opsigte ook ’n politieke biografie, ’n storie oor verset van binne die apartheidstelsel … Sy was in baie opsigte soos ’n ploegskaar wat die harde ideologiese kors van apartheid* help breek het” (Willie Esterhuyse). In 1973 is sy as voorsitter van die Suid-Afrikaanse regering se kommissie van ondersoek na Kleurling-aangeleenthede aangestel. Dit het haar naam in die annale van Suid-Afrika se geskiedenis gevestig. “Lees ’n mens vandag die kortbegrip van die Theron-verslag … ontmoet jy ’n baie ingewikkelde persoonlikheid, iemand verskeurd tussen lojaliteit aan die Nasio­nale Party, maar ook moreel bewoë oor wat haar mense se politieke beleid aan die waardigheid, selfrespek en basiese regte van veral medetaalgenote soos die bruinmense gedoen het” (Esterhuyse). Uiteinde­lik het sy in 1981 haar verset teen die Groepsgebiedewet ondubbelsinnig in die openbaar uitgespreek – wat haar regstreeks in botsing met eerste minister PW Botha* gebring het. Theron kan dalk beskou word as ’n “moeder” van die morele verset teen drakoniese apartheidsmaatreëls wat in die 1980’s al hoe meer onder Afrikaners* posgevat het.

Sidebar