THIBAULT, LOUIS MICHEL

THIBAULT, LOUIS MICHEL (1750–1815) was ’n Franse argitek, ingenieur en landmeter wat hoofsaaklik as argitek aan die Kaap bekendheid verwerf het. Thibault was ’n uitmuntende student wat aan die Académie Royale d’Architecture in Parys gestudeer het onder Jaques Ange Gabriel (1698–1782), Frankryk se Premier Architecte en eksponent van die Franse Klassisisme. Ná sy opleiding in militêre ingenieurswese het hy as luitenant-ingenieur van De Meuron se huurregiment die Kaap in Januarie 1783 bereik.

Die Goeie Hoop-Losie, die drosdye van Tulbagh en Graaff-Reinet en die ombouing van die ou slawelosie tot hooggeregshof (tans die Slawemuseum) in Kaapstad, is drie van Thibault se talle argitektoniese skeppings aan die Kaap. Sy ontwerpe was oorwegend in die neo-klassieke styl tydens ’n oorgangsfase van die Barok-argitektuur. Onder die geboue wat ook moontlik aan Thibault toegeskryf kan word, is die African Theatre (1799–1800), Suid-Afrika se eerste openbare teater wat tans beter be­kend is as St Stephen’s*-kerkgebou op Riebeeckplein, Kaapstad. Die ovale ocil-de-boeuf-vensters bokant die swaairaamvensters (soos in die Salon de l’Ocil de Boeuf in die Versailles-paleis), die pediment en steunbere, oorspronklik met kruike gekroon, asook die gesloopte vierkolompartiek, dui op sy styl.

Vir verdere lees: H Fransen 2004. The Old Buildings of the Cape. Jeppestown: Jonathan Ball.

Sidebar