THIELICKE, HELMUT

THIELICKE, HELMUT (1908–1986) het sy skoolopleiding in Wuppertal ontvang en daarna aan die Universiteit van Erlangen studeer. In 1932 promoveer hy in die filosofie met ’n proefskrif oor Das Ver­hältnis zwischen dem Etischen und dem Ästetischen, en in 1934 ontvang hy ook sy doktorsgraad in die teologie*. In 1936 word hy aangestel as professor in die dogmatologiese* vakke te Heidel­berg. Hy is spoedig verdink van anti-Nazi*-gevoelens en is by herhaling deur die Gestapo ondervra, en het as gevolg daarvan sy pos in Heidelberg verloor. Twee jaar later is hy weer in ’n teologiese pos in Stuttgart aangestel, maar is spoedig deur die rege­ring verbied om te reis, te publiseer en selfs te preek. Ná die Tweede Wêreldoorlog* kon hy sy teologiese werk voortsit. In 1954 was hy betrokke by die stigting van ’n nuwe fakulteit van teologie aan die Universiteit van Hamburg, waarvan hy in 1960 die rektor geword het. Thielicke was veral bekend vir sy teologiese werk op die terrein van die etiek*. Sy reeks standaardwerke oor die etiek is ook aan Suid-Afrikaanse universiteite vir teologie-studente voorgeskryf. As populêre spreker het hy lesingtoere onderneem, onder an­dere na die Verenigde State, Latyns-Ame­rika, Australasië en ook na Suid-Afrika. Ná sy aftrede in 1978 het hy hom veral beywer vir ’n ondersteuningsgroep vir jong predikers.

Vir verdere lees: H Thielicke 1995. Notes from a Wayfare: The Autobiography of Helmut Thielicke, vertaal deur DR Law. New York: Paragon House.

Sidebar