THOM, JACOBUS DANIËL (JACO)

THOM, JACOBUS DANIËL (JACO) (1957–) het bekend geword vir sy Bybel*­romans. Hy is op Stellenbosch gelegitimeer en was daarna predikant* van die NG Kerk*-gemeentes Monument en Noorder-Paarl (nou Toringkerk). Thom het aanvanklik grepe van die Bybelverhaal in koerantvorm verwerk en dit so gepubliseer. Mettertyd skryf hy Die Bybelroman, wat die Bybel se verhaal van die skepping tot met die uitstorting van die Heilige Gees* vertel, en Die Bybelroman 2, die verhaal van die vroeë kerk – van Jesus* se hemelvaart* tot by Jo­hannes* se visioene op die eiland Patmos*. Die Nuwe Bybelroman verskyn in 2004 en is ’n verwerking van Die Bybelroman en Die Bybelroman 2 in een band en gee ’n geheelbeeld van die Bybelverhaal van Genesis* tot Openbaring*. Thom wil met sy romans deur die oë van die Bybelkarakters kyk en sy lesers sodoende help om God aan die werk te sien. Hy slaag sonder literêre pretensie daarin om die verhaal van die Bybel vars oor te vertel.

Sidebar