THOMISME EN NEO-THOMISME

THOMISME EN NEO-THOMISME. ’n Filosofie* of teologie* word as “Thomisties” aangedui as dit getrou wil bly aan die geheel of beduidende aspekte van die denke van die filosoof-teoloog Thomas van Aquino* (1224/1225–1274). Historiese navor­sing sedert die middel-19de eeu het aangetoon dat die Thomisme nie ’n beweging is wat deur ’n gemeenskaplike stel idees gekenmerk word nie, maar beskou moet word as 1. ’n versamelnaam vir Thomiste van uiteenlopende aard, en 2. as ’n kerklik-teologiese oriëntasie binne die Katolieke Kerk*.

Thomas se denke word gekenmerk deur ’n tweedeling van rede en geloof* wat altwee ’n eiesoortige kennis oor die werklikheid bied, maar nie in konflik met mekaar is nie. Die werklikheid word beskryf deur ’n idee van dit wat is (syn) as dinamies en gevorm tot verskillende verskyningsvorms volgens die ewige patrone (wese) van dinge. Die rede het direkte toegang tot die werklikheid deur die sintuie, maar rasionele, sintuiglike kennis wat so verwerf word, moet steeds getoets word aan die vorm of wese van objekte. Die mens is ’n kombinasie van syn (dinamiese materie) en intelligensie wat daaraan sy wese of manier van bestaan verleen. Die wil bestuur gedrag onder die invloed van God. Thomas staan ’n etiek* van deugde* voor wat sy volle verwerkliking in die politieke lewe kry. Die rede kan toegang gee tot die feit dat God bestaan, nl deur vyf weë of Godsbewyse*. Kennis oor die aard van God kom egter net deur die openbaring* wat deur die geloof* geken word. Teologie word beoefen as wetenskap wat die letterlike betekenis van die Skrif* uitlê, ’n kennisleer moet ontwikkel en alle kennis moet sistematiseer.

In sy 1879-ensikliek, Aeterni Patris, beveel pous Leo XIII die leer van Thomas aan as filosofiese onderbou vir Katolieke oplei­ding. Sodoende gee hy momentum aan ’n herlewing van die Thomisme. Twee stromings Neo-Thomisme vorm van die einde van die 19de eeu af: 1. ’n konserwatiewe vorm wat so getrou moontlik wil bly aan die denke van Thomas; 2. ’n innoverende vorm, wat deur Thomas geïnspireer is, maar oop is na ander filosofieë en die wetenskappe. Alle filosofiese vrae word hierin gedek, maar sekere debatte staan uit: die vraag oor die aard van kritiese realisme, die aard en moontlikheid van ’n Christelike filosofie, die intellektualisme van die Thomisme. Die Neo-Thomisme taan veral sedert die 1960’s, maar Thomas se deugde-etiek behou nog ’n invloed. In Suid-Afrika kan ’n Thomistiese invloed in die filosofie van Martin Versfeld* uitgewys word.

Vir verdere lees: EH Gilson 1964. The Spirit of Thomism. New York: PJ Kenny & Sons.

Sidebar