THURNEYSEN, EDUARD

THURNEYSEN, EDUARD (1888–1974). Toe hy vier jaar oud was, verhuis die gesin na Basel waar Thurneysen later in die voetspore van sy pa volg en teologiese opleiding begin wat hy in Marburg voltooi. In sy eerste gemeente* in Leutwil-Dürrenäsch (1913–1920) maak hy weer kontak met Karl Barth*, ’n kennis uit sy studentedae wat op ’n naburige dorp, Safenwil, predikant* was, en ’n lewenslange vriendskap word gesmee. Vanaf 1920–1927 is hy predikant in Brug­gen-Winkeln. In 1927 doktoreer hy aan die Universiteit van Giessen en in dieselfde jaar word hy leierdominee (Münsterpfarrer) in Basel, ’n pos wat hy tot in 1959 beklee. In 1930 ontvang hy ’n leeropdrag in praktiese teologie, Universiteit van Basel. In 1935 sluit Barth hom ook by dié universiteit aan.

Thurneysen se bydrae tot die teologie lê op die terreine van die homiletiek* en die pastoraat. Vir hom is pastoraat ’n spesiale vorm van prediking*. Dit is toespitsing van die Woord* van God op die indiwidu. Die inhoud van hierdie Woord is die vergewing* van sonde*. Aangesien die Woord van God, wat van buite die mens kom, ’n kritiese element is wat weerstand in die mens oproep, lei dit tot spanning in die pastorale gesprek en kry die gesprek die karakter van ’n stryd­gesprek. Wat die preek betref, spreek hy hom uit teen die retoriek as ’n bondgenoot van die prediker.

Vir verdere lees: R Bohren 1982. Prophetie und Seelsorge: Eduard Thur­neysen. Vluyn: Neukirchener Verlag. W Luthi en E Thurneysen 1957. Preaching. Richmond: John Knox. E Thurneysen 1962. A Theology of Pastoral Care. Richmond: John Knox.

Sidebar