TIATIRA

TIATIRA was ’n belangrike handelstad in die antieke tyd, geleë in Klein-Asië (mo­derne Turkye). Die voorspoed van die stad was deels weens sy ligging in die vrugbare Lukosdal en ook aan die rivier op ’n belang­rike handelsroete van Pergamum* na Smirna*. Dit is 90 km noordoos van Smirna. Tiatira was oorspronklik deel van die ou koninkryk van Lidië, naby die grens van Misië, maar het later ’n belangrike rol gespeel in die Hellenistiese* en Romeinse* ryke. Navorsers verwys veral na die stad as ’n plek waar handelsgildes baie aktief was. Inskripsies onthul die bestaan van ’n groot aantal aktiewe gildes van vakmense in die stad. Dit het wolmakers, wewers van linne en persone wat tekstielmateriaal gekleur het, ingesluit. Veral die tekstielindustrie het wye bekendheid in die antieke wêreld geniet.

Volgens Hand 16:14 was Tiatira die stad waarvandaan Lidia* afkomstig was. Sy was ’n purperverkoopster (handelaar in pers wolmateriaal – 1983-Afrikaanse Vertaling; purperhandelaar – 2014-’n Direkte Vertaling). Kleurstof van Tiatira is destyds wyd oor lang afstande uitgevoer en was baie duur, sodat dit ’n belangrike bydrae tot die voorspoed van die stad gelewer het. Lidia, as handelaar daarin, was dus waarskynlik ’n welaf persoon. Tiatira is die vierde stad in Openbaring* en ook die setel van “die vrou Isebel”, die belangrike vyand van Johannes* (Op 1:11; 2:18-29).

Sidebar