TIBERIAS

TIBERIAS was ’n stad gestig in 20 nC deur Herodes*4 Antipas, heerser van Galilea*, en geleë aan die weskus van die See van Galilea*. Tiberias word net een keer in die Nuwe Testament* vermeld (Joh 6:23). Die stad was ’n bekende vissentrum en beroemd vir sy tekstielbedryf, wyn, vye en gars. Daar was ook ’n warmwaterbron. Vandag word dit geïdentifiseer met Khirbet Kunaitirah, noord van die moderne Tiberias. Tydens die bou van die stad is grafte ontdek, wat dit onrein (Kyk by: Rein) vir Jode* gemaak het. Antipas was dus verplig om die stad te bevolk met ’n gemengde bevolking van Jode en heidene*, wat grondloses en vrygelate slawe ingesluit het.

Mettertyd het Tiberias ’n sterk Joodse vesting geword. Daarom hoor ons eers vroeg in die 4de eeu vir die eerste keer van ’n Christelike kerk* daar. Dit is met die steun van keiser Konstantyn* gebou. Die sg Jerusalemse of Palestynse Talmud* is grootliks in Tiberias afgerond (5de eeu). In dieselfde eeu het kerkvader Hieronimus* ’n Joodse* wetgeleerde van Tiberias na Betlehem* laat kom om te help met die vertaling van Kronieke* in Latyn. In die middel van die 7de eeu het Tiberias die sentrum vir die Masorete* geword wat die vokalisasie-sisteem vir die Hebreeuse* konsonanteteks van die Bybel* ontwikkel het.

Sidebar