TIBERIUS, CLAUDIUS NERO

TIBERIUS, CLAUDIUS NERO (42 vC–37 nC) was van 14 nC tot sy dood Romeinse* keiser*. Sy ma trou met Okta­vianus (Augustus*) wat hom later (4 nC) as kind aangeneem het (van toe af het hy “Tiberius Caesar Augustus” geheet) om seker te maak dat hy ’n troonopvolger sou hê. Toe Augustus op 19 Augustus 14 nC sterf, het Tiberius die mag oorgeneem en die politieke beleid van Augustus voortgesit. Sy regeringstyd was ’n oorwegend rustige tydperk. Sowel Flavius Josefus* as Filo van Aleksandrië sê dat Tiberius verdraagsaam teenoor vreemde godsdienste en ook teenoor die Jodedom* was. In 26 nC stuur Tiberius Pontius Pilatus* as goewer­neur na Judea*. Tiberius word uitdruklik in Luk 3:1 vermeld wanneer Lukas* die optrede van Johannes die Doper* in Tibe­rius se 15de regeringsjaar, dit wil sê in 28/29 nC, dateer. Die openbare optrede van Jesus* en sy kruisiging* val dus in die regeringstyd van Tiberius. Die verwysing na die keiser in Joh 19:12, 19 bedoel gevolglik keiser Tiberius. Ook in Mark 12:13-17 en parallelle gedeeltes is van die keiser en daarom van Tiberius sprake. Tiberius geniet die reputa­sie dat hy ’n streng maar regverdige aristokraat was met ’n neiging tot ’n asketiese* lewenstyl.

Vir verdere lees: R Seager 1972. Tiberius. Londen: Eyre Methuen.

Sidebar