TIEN GEBOOIE

TIEN GEBOOIE is afgelei van die Hebreeuse naam “Tien woorde” (Eks 34:28; Deut 4:13) en moet daarom nie met wette in die moderne sin in verband gebring word nie. In die Septuaginta* word die “Tien Gebooie” met die term “Dekaloog*” (“Tien woorde”) vertaal. Daar is twee weergawes van die Tien Gebooie wat verskillende kontekste veronderstel: In Eks 20:1-17 behels dit die woorde wat God op Sinai*2 aan sy volk gerig het, terwyl dit in Deut 5:6-21 deel van Moses* se tweede toespraak op die vlakte van Moab* uitmaak.

Die Tien Gebooie word ingelei met die selfbekendstellingsformule van die Here* waarmee die redding uit die slawerny van Egipte* as konteks aangebied word (Eks 20:3; Deut 5:6). Daar word gewoonlik twee onderafdelings in die Tien Gebooie onderskei: die eerste vier gebooie hou verband met God en die laaste ses het implikasies vir die verhouding met die medemens.

In die eerste gebod word monoteïsme* (die aanbidding van net een God) beskerm, terwyl die tweede ’n verbod op enige vorm van afgodediens is. Die derde gebod wys die misbruik van God se Naam af wat onder andere binne die aflê van getuienis in die regspraak ter sprake is. Opvallend is die twee motiverings van die vierde sabbatsgebod: in Eks 20:11 gaan dit oor die mens wat moet rus soos God op die sewende dag rus ná die ses dae van skeppingswerk, terwyl Deut 5:11-12 dit motiveer aan die hand van die bevryding uit Egipte.

Die vyfde gebod gebied eerbied vir ouers (die enigste gebod wat positief geformuleer is en wat aan ’n belofte gekoppel word, vgl Ef 6:2-3). Die sesde gebod verbied moord en beskerm derhalwe lewe. Die sewende gebod handhaaf die huwelik* deur gemeenskap met die vrou van ’n ander man te verbied, en die agste gebod se verbod op diefstal beskerm die besittings van die medemens. In die laaste twee gebooie verbied die negende gebod die aflê van vals getuienis tydens die regsproses en die tiende en laaste gebod verbied die begeerte wat nie soseer op ’n daad nie, maar veral op ’n gesindheid dui.

In die Katolieke* teologie bevat die eers­te tafel drie gebooie (die eerste en tweede gebod word as een getel) en die tweede tafel het sewe gebooie (die tiende gebod word in twee verdeel).

Die Tien Gebooie hou verband met sekere priesterlike en profetiese tekste – die ooreenkomste met die toegangsliturgieë in Ps 15 en 24, sowel as die verbandhoudende sosiale verbiedings in Hos 4:2 en Jer 7:9 staaf hierdie vermoede. Ooreenkomste tussen die Tien Gebooie en Ou Nabye Oosterse (veral Hetitiese*) internasionale verdrae, beklemtoon die verbondskarakter wat die Dekaloog mettertyd ontwikkel het ten einde die verhouding tussen die Here en sy volk te reël.

Hoewel die Tien Gebooie nie ’n volledige lys van alle moontlike oortredings in­sluit nie, verwys dit wel na alle lewensverbande en eis dit telkens onvoorwaardelike gehoorsaamheid en getrouheid aan die Here. Indien die inleidende selfbekendstel­ling van die Here op elke gebod van toe­passing gemaak word, funksioneer die Tien Gebooie as die meganisme om gehoorsaamheid as dankbare reaksie op die Here se redding uit Egipte* te bewerkstellig.

 

Sidebar