TIENDES

TIENDES. Om ’n deel van jou inkomste aan die tempel* of staat te gee, was nie net ’n gebruik by Israel* nie, maar ook by an­der nasies, soos die Egiptenare* (Gen 47:24). Moses* se wet* vereis dat tiendes (He­breeus* ma’asér, Grieks* dekaté) “van al die produkte van die land” sowel as “van die beeste en kleinvee” aan God gewy moet word (Lev 27:30). Mal 3:7-12 profeteer daarteen om swak diere of produkte uit te soek vir tiendes. In die Ou Testament* is tiendes hoofsaaklik vir die onderhoud van Leviete* (Num 18:21), wat weens hulle pligte nie ’n inkomste kon verdien nie, na die tempel gebring (Deut 12:5). Soms, wanneer mense ver van die tempel gebly het, kon hulle die tiendes in geld omsit (Deut 14:24), wat gebruik kon word sodat die “Leviete … die vreemdelinge*, die weeskinders en die weduwees in jou omgewing genoeg (kan) eet” (Deut 14:29). Later is die omvang van tiendes uitgebrei weens die stygende onderhoudkoste van die tempel en sy personeel. Dit lei tot ’n verwaarlosing van die sake waarvoor tiendes bedoel was. Daarom bestraf Jesus* die skrifgeleerdes* wat “tiendes van kruisement, anys en koljander” eis, en in die proses “geregtigheid*, barmhartig­heid* en betroubaarheid” nalaat (Matt 23:23).

Vandag kan die gee van tiendes nie as ’n “Bybelse vereiste” vir gelowiges gesien word nie, maar is dit tog steeds ’n riglyn om in gedagte te hou as ’n gelowige besluit watter deel van sy/haar inkomste hy/sy aan “die werk van die Here” wil gee.

 

Sidebar