2 TIMOTEUS/TIMOTHEUS (BYBELBOEK)

2 TIMOTEUS/TIMOTHEUS (BYBELBOEK), een van Paulus* se Pastorale briewe*, is heelwat korter as 1 Timoteus*, en adem ’n ander a­t­mos­feer. Dit bespreek bv nie groepe (mans, vroue en slawe*) of die ampte* nie. Die dwaalleer van die opponente verwerp nie die huwelik* of die eet van kos nie, maar ontken die opstanding* (2 Tim 2:18). Dit lyk boonop asof ’n ouer persoon hier aan die skryf is: die skrywer praat oor verleidings van die jeug (2:22) en Paulus wag hier in die tronk op sy dood (4:6). Die inhoud lyk ook minder gestruktureerd. Ná die inleiding (1:1-2) volg ’n danksegging oor Timoteus* (1:3-6) en ’n uitgebreide aanmoediging vir Timoteus oor sake van die bediening (1:8–2:26). Na ’n kort uiteensetting oor die dwaalleraars (3:1-9), volg daar weer voorskrifte aan Timoteus, maar nou aangebied in teenstelling met die werk van die opponente in die gemeente (3:10–4:8). Die brief eindig met persoonlike opmerkings (4:6-21) en die tipiese briefslot (4:22).

Tradisioneel word aanvaar dat Paulus hierdie brief kort voor sy dood in ongeveer 64 nC geskryf het, hoewel heelwat geleerdes meen dat dit in ’n later stadium deur ’n toegewyde volgeling van Paulus in die naam van sy leermeester geskryf is. Nietemin is daar goeie oorwegings vir die aanvaarding van die tradisionele standpunt dat Paulus die outeur van hierdie brief is.

Sidebar