TIGLAT-PILESER III

TIGLAT-PILESER III (ook bekend as “Pul” – 744–727 vC) was onder andere betrokke in pogings om Sirië* en Palestina* aan Assirië* te onderwerp. In die annale van hierdie koning word melding gemaak van die opstand van ene Asarja* (Ussia*) van Juda*. Laasgenoemde sterf en talle in­woners van Juda*4 word in ballingskap*2 weggevoer. Inskripsies verwys ook na ko­nings wat skatplig aan Assirië moes betaal, bv Joas* van Juda en Menahem* van Samaria (vgl 2 Kon 12:18; 15:19-22). Die belasting wat Menahem moes betaal, klop met die destydse heersende pryse van slawe (Kyk by: Slawerny in Bybelse tye).

Koning Tiglat-Pileser van Assirië het Israel* twee keer binnegeval. Die doel van een daarvan, bekend as die sg “Siro-Efraïmitiese* krisis”, was om Agas* van Juda (733–732 vC) teen ’n aanval deur Peka* van Israel* en Resin* van Damaskus* te beskerm (2 Kon 15:19-20, 29; 16:5-18; 1 Kron 5:6, 26; 2 Kron 28:16-21).

Nadat lg konings geneutraliseer is, het Agas ’n welwillendheidsbesoek aan die Assiriese koning gebring. Hy aanvaar (moontlik onder dwang) die Assiriese godsdiens (2 Kon 16:5-18) en stuur ’n afbeelding/model van die Assiriese altaar aan die priester (Urija*) met die opdrag om dieselfde soort altaar in Jerusalem* te bou. Ikonografiese afbeeldings van Tiglat-Pileser met sommige van sy militêre operasies daarop, het behoue gebly.

Vir verdere lees: DN Freedman (hoofred) 1992. Anchor Bible Dictionary. New York: Doubleday. JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP.

Sidebar