TIKKUIE, VEHETTGE

TIKKUIE, VEHETTGE (circa 1720’s). Georg Schmidt* is deur die Saksiese graaf Von Zinzendorf* as eerste sendeling* vir die Overbergse Khoekhoen* (Khoi-Khoi) afgesonder. As vrug op sy werk, wat geskoei was op streng, indiwidualistiese piëtisme*, is Tikkuie saam met vier ander in 1742 op afsonderlike dae gedoop*. Nes die ander (onder wie Africo en Kibido) het sy ’n Christen-naam ontvang, nl Magdalena (noemnaam: Lena). Benewens Christosentrisme (Kyk by: Christologie), wat anders as die bestaande geloof van die Hessekwa-stam was, het die Herrnhutters* aan leesvaardigheid geglo. “Lena” se vermoë om later te kon lees en skryf, het egter spanning tussen haar en die ander vroue meegebring. Die sendeling het haar gereelde besoeke aan familie en vriende van haar stamgroep by Hartebeeskraal afgekeur – ’n aanduiding van die konflik tussen Zinzendorfse piëtisme en die kultuur van Baviaanskloof.

Ná amptelike klagtes oor die feit dat hy mense gedoop het en persoonlike pro­bleme, verlaat Schmidt Suid-Afrika in 1744. Bykans vyftig jaar later bevind die Morawiërs* hulle terug op Genadendal* … en ontdek dat “Lena” nie net haar Nuwe Testament* behou het nie, maar intussen ook ander geleer lees het en die Bybelse* boodskap lewend gehou het. Sy kan met reg die eerste vroue-evangelis uit Khoe­khoen-geledere genoem word. (Kyk ook: Lena van Genadendal.)

Vir verdere lees: HC Bredekamp en J Hattingh 1982 Die dagboek en briewe van Georg Schmidt, die eerste sendeling in Suid-Afrika. Bellville.                    

Sidebar