TILE, XOXO NEHEMIA
TILE, XOXO NEHEMIA (circa 1800) is in Temboeland, Oos-Kaap, gebore. Die Wesleyaanse* sendeling* Dugmore het hom gedoop* en onderrig. As Christen en prediker is hy dwars in die krop gesteek deur die teenstrydigheid tussen wat wit Christene verkondig het en die diskriminasie en uitsluiting wat hulle beoefen het. In 1833 is Tile en ander swart predikante* bv nie toegelaat om deel te neem aan besprekings by ’n Metodiste*-konferensie oor sake wat hulle regstreeks geraak het nie.
Weens sy verbondenheid met sy mense en die Temboe-koning Ngangelizwe, en uit protes teen wit oorheersing en koloniale heerskappy, het Tile ’n nuwe Afrikakerk gestig, die Thembu Church. Hy was die eerste swart Suid-Afrikaner wat ’n Onafhanklike Afrikakerk* (wat nie uit wit sending*aktiwiteite ontstaan het nie) gestig het. Dit het ’n holistiese benadering gehad en was in Afrika*kultuur* gewortel.
Tile het nooit kompromieë oor sy oortuigings en beginsels aangegaan nie. Hy het wit oorheersing op politieke sowel as geestelike vlak bevraagteken. Dit was ook sy begeerte om die kerk* se boodskap by die Temboes se kultuurerfenis te laat aansluit. Tile het die inisiatief geneem om befondsing te bekom sodat ’n oorspronklike manier gevind kon word om die Bybelse* boodskap in Afrikakonteks oor te dra en daarin gestalte te laat vind. Hy het gehelp dat die Christelike evangelie* sy integriteit behou het toe dit gevaar geloop het om verwerp te word juis deur die mense vir wie dit bedoel was.