TILLICH, PAUL JOHANNES OSKAR

TILLICH, PAUL JOHANNES OSKAR (1886–1965) is in Starzeddal, ’n provinsie van Brandenberg, Duitsland, gebore. Hy het in ’n konserwatiewe Lutherse* predikants­huis grootgeword. Hy het aan die universiteite van Berlyn, Tübingen en Halle studeer. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog* is hierdie jong weermagkapelaan se beskermde en konserwatiewe lewe ingrypend verander, en word hy ’n religieuse sosialis en kultuurpessimis. In 1933 word hy deur die Nazi’s* uit sy universiteitspos geskors omdat hy hulle ideologie* in een van sy boeke gekritiseer het. Op uitnodiging van sy Amerikaanse vriend, Reinhold Niebuhr*, verhuis Tillich na Amerika waar hy ’n pos aan die Union Theological Seminary, New York, aanvaar. In sy nuwe tuisland, veral ná die Tweede Wêreldoorlog*, spits hy hom toe op ’n nuwe uitdaging: die vraag na die sin van die lewe en ’n lewensplek in die verbryselde bestaan van ’n postoorlog-wêreld. Deur twee publikasies het hy groot akademiese bekendheid verwerf: ’n dun preekbundel The Shaking of Foundations (1948) wat ’n verkooptreffer was, en sy driebandige Systematic Theology (1951–1963) wat hom tot een van die bekendste en gerespekteerdste teoloë in die Amerikaanse teologiegeskiedenis verhef het. In sy teologiese benadering wou hy die Christelike geloof* verstaanbaar maak aan religieus-skeptiese mense. Hy wou ’n weg vind tussen eietydse kultuur* en historiese Christendom* ten einde aan te toon dat geloof* nie vir die eietydse kultuur onaanvaarbaar hoef te wees nie, en omgekeerd. Sy teologiese werk word beskou as ’n aanpassing en verbre­ding van die Lutherse geloofsbeginsel van regverdiging deur die genade van geloof alleen. Hy ontwikkel sy teologie metodologies as korrelasieteologie* in die soeke na die eksistensieel-teologiese ontvouing van die “ultimate concern” van die mens.

 

Sidebar