TIMOTEUS/TIMOTHEUS (PERSOON)

TIMOTEUS/TIMOTHEUS (PERSOON) was volgens Hand 16:1 die seun van ’n Joodse vrou, Eunice* (2 Tim 1:5), en ’n Griekse pa, wat dalk verklaar waarom hy nog nie besny was toe Paulus* hom in Listra* ontmoet het nie. Hy het ’n goeie reputasie daar en in Ikonium* geniet (sien ook 2 Tim 3:11). Timoteus vergesel Paulus ná sy besnydenis* op sy reise as “helper” (Hand 19:22). Hy doen dikwels nasorgwerk vir Paulus: hy bly saam met Silas* agter in Berea nadat Paulus die stad moes verlaat vir Atene* weens oproer deur die Jode* uit Tessalonika. In Hand 19:22 word Timoteus en Erastus* na Masedonië* gestuur en in Hand 20:4 is Timoteus een van vyf medereisigers van Paulus.

Paulus se briewe bevestig sy noue band met Timoteus. In Rom 16:21 stuur Paulus groete aan Rome* namens Timoteus wat hier sy “medewerker” genoem word. Hy is ’n belangrike rolspeler in Paulus se moeilike en emosionele verhouding met Korinte*. Hy word in 2 Kor 1:19 saam met Silas en Paulus genoem as verkondiger van die evangelie* daar. Baie sterk is die beskrywing in 1 Kor 4:17 van hom as Paulus se “geliefde en getroue seun” wat die Ko­rintiërs sal herinner aan Paulus se leer en lewe. Volgens 1 Kor 16:10 doen Timoteus net soos Paulus “die werk van die Here*”. Hy figureer ook prominent in die briewe aan die Filippense (Fil 2:19) en Tessalo­nisense* (3:2; 3:6). Hy word genoem as me­de­skrywer van 2 Korintiërs* (1:1), Filip­pense* (1:1), Kolossense* (1:1), 1 en 2 Tessa­lonisense* (1:1) en Filemon* (1:1). Pau­lus het twee briewe aan hom geskryf (1 en 2 Timoteus*) waarin die opmerkings oor Timoteus se swak gesondheid en sy jeug die oog vang.

Sidebar