TITUS, DIE BRIEF AAN (BYBELBOEK)

TITUS, DIE BRIEF AAN (BYBELBOEK), een van Paulus* se Pastorale briewe*, is geskryf aan die belangrike medewerker van Paulus wat op die eiland Kreta agtergelaat is om dinge daar reg te maak en om ouderlinge* aan te stel (Tit 1:5). Die brief noem vereistes vir ouderlinge (Tit 1:7-9), gevolg deur ’n bespreking en skerp veroordeling van “baie” wat in Kreta onder gelowiges* ’n onaanvaarbare leer verkondig en onvanpaste gedrag openbaar (Tit 1:10-16). Sommige geleerdes lei af dat dit ’n groep met Joodse* bande is omdat hulle “uit die besnydenis*” is, maar alle gissings oor wie hulle was, bly spekulasie. ’n Derde afdeling van die brief bespreek verskillende groepe (ou mans en vroue, jong vroue en mans en slawe*) en lê vereistes vir hulle gedrag neer (Tit 2:1-10). Die brief eindig met ’n bespreking van God se genade* wat mense aanspoor tot ’n toegewyde lewe (Tit 2:11-15) en praktiese voorskrifte en persoonlike opmerkings (Tit 3). Die brief beklemtoon ’n lewenstyl wat die evangelie* prakties uitleef.

Heelwat navorsers meen dié brief verskil so sterk van Paulus se ander briewe en van wat ons oor Paulus se bediening weet (vgl Handelinge*), dat dit deur ’n volgeling van Paulus eerder as deur Paulus self geskryf is. Die brief is inderdaad anders as Paulus se ander geskrifte, maar goeie redes kan daarvoor gegee word. Ongeag die on­se­kerhede oor die brief se ontstaan, is die boodskap daarvan duidelik en toon dit verband met Paulus se prediking. Dit roep die gelowiges veral op tot die praktiese uitle­wing van die evangelie* in ’n samelewing wat ontaard en gewelddadig geword het. God se genade mag nie deur ’n onverskillige leefwyse goedkoop gemaak word nie en Christene* moet teenoor ’n vervalle samelewing ’n duidelike voorbeeld van ’n ordelike bestaan uitlewe.

Sidebar