TITUS (PERSOON)

TITUS (PERSOON), ’n bekende mede­werker van Paulus*, het ’n Griekse agtergrond gehad en is gebore as seun van heidense* ouers (Gal 2:3). Paulus sien hom as ’n seun in die geloof* (Tit 1:4), ’n metgesel en medewerker (2 Kor 8:23), en ag hom hoog, soos blyk uit sy teleurstelling as hy Titus nie in Troas* aantref nie (2 Kor 2:13). Titus is ’n belangrike tussenganger tussen Paulus en die Korintiërs wat die probleme in Korinte* moes help bylê omdat dit Paulus baie ontstel het. Hy word ’n paar keer in 2 Korintiërs* genoem (2 Kor 7:6, 15; 8:16; 12:18). Daar word soms gespekuleer dat hy 1 Korintiërs* afgelewer het (1 Kor 16:12), maar al wat volgens 2 Kor 12:18 seker is, is dat hy wel in ’n stadium daar besoek afgelê het.

Volgens Tit 1:5 het Paulus Titus op Kreta* agtergelaat om gemeentelike sake in orde te kry en ouderlinge* te laat kies. Hierdie werk is slegs voorlopig, omdat hy in Tit 3:12 gevra word om na Nikopolis te gaan. Sy aktiewe lewe blyk voorts uit 2 Tim 4:10 waar vertel word dat hy op pad na Dalmasië is. Dit blyk dat Titus oor ’n groot gebied betrokke was by Paulus se sending*werk.

 

Sidebar