TOEKOMS

TOEKOMS. Dit wat vir die mens* hoop* gee vir die toekoms, vorm dikwels die kern van sy/haar geloof*. Die sentrale aspek van toekomsverwagting in die Ou Testament* was die verwagting van die vervulling* van God se beloftes* in die toekoms, die koms van die dag* van die Here*, die dag van ver­gelding (Joël 1:15; 2:1; Amos 5:18-20), en die verlossing van die volk van die Here en die oprigting van sy koninkryk* (Jes 40–55).

In die Nuwe Testament* word grootliks uitgegaan van die vervulling van die be­loftes van die Ou Testament met die koms van Christus* (Matt 2:5-6; 3:3; 8:17; Luk 1:30-33). “Dag van die Here” word nou vervang met die verwagting van die dag van Jesus* Christus se wederkoms* (1 Kor 1:8; 5:5; Fil 1:6), die herstel van alles in die nuwe hemel* en op die nuwe aarde* tot die oorspronklike staat (Op 21–22), ’n regverdige oordeel oor lewendes en dooies (Op 20:11-15), en ewige heerlikheid en heerskappy van die gelowiges saam met Christus (1 Tess 4:17; 1 Joh 3:2).

Sidebar