TOEVAL

TOEVAL, of geluk, is die gebeure waar­deur iets plaasvind wat nie voorsien kon word nie of waarvoor daar nie ’n redelike oorsaak bepaal kan word nie. Kansspel, soos lotery*, word meermale geregverdig met die argument dat die uitkoms toevallig is, sodat alle deelnemers ’n gelyke kans staan om voordeel daaruit te trek. Daar­teenoor staan die determinisme*, wat wil hê dat alle gebeure volledig vooraf bepaal is. Teologies gesien, is daar niks wat uitge­sluit is van die voorsienigheid* van God nie. Dit moet egter nie so gesien word dat letterlik elke gebeurtenis die resultaat van ’n bepaalde Goddelike besluit is nie. God het sekere wette daargestel waardeur die gang van alles in sy skepping beheer word. Binne sy voorsienigheid is daar dus ook ruimte vir toeval. In hierdie sin is die op­skiet van ’n muntstuk of die draai van ’n raket in sport om te bepaal wie die spel gaan begin en van watter kant af, ook op toeval gegrond (Kyk ook: Sport en gods­diens). Vir gelowiges is toeval nie ’n be­dreiging nie, omdat hulle mag weet dat hulle onder die beskikking van God bewaar word van rampe of teëspoed wat hulle “toevallig” mag tref.

Sidebar