TOEWYDING

TOEWYDING, binne ’n godsdienstige konteks, beteken om jou tot beskikking of in diens te stel van God, om jou te wy aan en af te sonder vir God, om jou lewe, krag, ens, volledig aan Hom te gee. Die gedagte vind ons reeds in die Ou Testa­ment* waar die nageslag van Abraham aan God toegewy is (vgl Eks 13:2, 12 en 15). Die gevolg was dat die Israeliete ook hulleself, hulle vee en weiding, selfs hulle oorlogsbuit, aan God toegewy het. Ons vind dieselfde gedagte in die Nuwe Testament* waar gelowiges aan God toege­wy is (vgl 1 Pet 2:9). In dié verband kom ook an­der begrippe soos “uitverkore” en “afgesonder” na vore. Toewyding of hernude toewyding kan ook binne die litur­gie* van die erediens* geskied waar ’n mo­ment van toewyding, gewoonlik in stilte, plaasvind. Dikwels word dit ook aan ’n spesifieke opdrag of ’n spesifieke amp binne ’n geloofs­tradisie gekoppel. So vind ordening tot die amp van predikant* plaas as teken van ’n persoon se toewyding aan God en die behoefte om sy of haar lewe ten volle te wy aan die bediening van die evangelie*. Toewyding kan ook meer as mense insluit; sekere heilige plekke en tye kan ook aan God toegewy word.

Sidebar