TOMAS

TOMAS. Behalwe in die apostellyste van die Sinoptiese* Evangelies, figureer Tomas hoofsaaklik in die Johannes-Evangelie*. In Joh 11:16 toon hy ’n bereidheid om saam met Jesus* te sterwe. In Joh 14:5 soek hy helderheid wanneer Jesus in simboliese taal oor die toekoms praat. Sy groter bekendheid as “ongelowige Tomas” kry hy met sy uitgesproke twyfel of Jesus werklik opge­staan het. Hy is afwesig wanneer Jesus die eerste keer aan sy dissipels* verskyn, en Tomas vra vir tasbare bewyse van die op­standing* wanneer die ander hom daarvan vertel. Toe Jesus weer verskyn waar Tomas aanwesig is, en Hy hom uitnooi om te bevestig dat dit waarlik Hy is, doen hy sy belydenis – “My Here* en my God!” – waarop Jesus die saligspreking oor die geloof* sonder empiriese waarneming uitspreek: “… Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo” (Joh 20:29b). By Jesus se laaste verskyning langs die See van Tiberias* is Tomas weer by. So ook in die bovertrek (Hand 1:13) voor Pinksterdag*. Volgens oorlewering het hy as apostel* veral in Sirië gewerk. Daar bestaan ook ’n apokriewe* boek, die Handelinge van Tomas, waarin baie oor hom vertel word, maar waarvan die meeste van die inhoud betwyfel word. (Kyk ook: Didimus.)

 

Sidebar