TOORN VAN GOD

TOORN VAN GOD. Die Bybel* leer dat God se toorn ontvlam vanweë sy afsku van enige vorm van kwaad, by watter volk ook al (vgl Amos 1:3–2:3), maar veral as die keersy van sy heilige liefde* wanneer Israel* sy verbondstrou met ontrou beantwoord (vgl Deut 32:10-14: sy liefde; Deut 15-18: hulle ontrou; Deut 19:25: sy toornreaksie). Met liefde as sy wesenskenmerk (1 Joh 4:9, 10, 16), is sy toorn nooit die primêre motief van sy handelinge nie; dit is altyd reaktief van aard. Maar juis as die reaksie van bele­digde liefde is dit so fel, so angswekkend (Ps 76:8), meestal met die beeld van verterende vuur aangedui (bv Klaagl 2:3-4). Te midde van die lig en skadu van die verbondsverhouding – liefde*, sonde* en oor­deel*, berou*, vergewing* en herstel – besing Israel die óneweredigheid tussen Gods toorn en sy guns (vgl die skerp kontraste in Eks 20:5-6; Ps 30:6; Jes 54:7-10). Aangrypend word die triomf van sy ontferming verwoord wanneer sy gloeiende toorn deur sy brandende liefde bedwing word (Hos 11:8-9) – met dié motivering: “… want Ek is God, nie ’n mens nie”! Wat die kroon span, is die evangelie* van sy genadige ruil: die geweld van sy toorn oor óns sonde tref sy Seun, terwyl óns vrygespreek word (Rom 3:23-26; 8:32-33). Ook die kómende toorn is reeds deur Christus* afgewend (1 Tess 1:10; Rom 8:1).

Vir verdere lees: BT Dahlberg 1996. “Wrath of God” in: GA Buttrick (red), The Interpreter’s Dictionary of the Bible, deel 4. Nashville: Abingdon.

Sidebar