TORING VAN BABEL

TORING VAN BABEL in Gen 11:1-9 vertel van die oorsprong van verskeie tale, maar is ook polemies gerig teen die Mesopotamiese* godsdiens sowel as teen die rol van tegnologie en menslike begeerte na outonomiteit (met ander woorde, die uitskakeling van God). Die mens het die kuns geleer om stene te maak en het beplan om ’n stad te bou met ’n toring wat tot aan die hemel* raak. Dit het gebeur op die vlakte van Sinar, wat dui op ’n gebied in Mesopotamië*.

Uitleggers verskil oor wat die sonde* van Babel* was. Die bekendste uitleg is dat die mense vir hulleself naam wou maak (vgl vers 4) en soos God wou probeer wees. Ander uitleggers meen dat die mense wou keer dat hulle verspreid raak oor die aarde (vgl vers 4), en dat hulle sonde* dus was dat hulle nie gehoorsaam wou wees aan die skeppingsopdrag om die aarde te vul en te bewerk nie (Gen 1:28). Afhan­gende van watter uitleg gekies word, word die verskillende tale dan óf gesien as ’n straf vir die mens se arrogansie, óf as die Here* se manier om die mens sover te kry om aan die skeppingsopdrag gehoorsaam te wees.

In die apartheidsteologie* (soos ook in 1974 geformuleer in die NG Kerk* se des­tydse beleidsdokument Ras,volk en nasie in die lig van die Skrif) is die tweede uitleg gevolg, en word verskillende volke en nasies gesien as God se beskikking om die mens sover te kry om aan die skeppingsopdrag uitvoering te gee. Die dokument gaan verder om die taalskeiding met rasseskei­ding in verband te bring, en om apartheid* daarmee Bybels te probeer ondersteun. In later jare sou die NG Kerk erken dat hierdie denkwyse ’n dwaling was (bv in Kerk en samelewing, 1986 en 1990).

Om die tweede uitleglyn te neem, is nie op sigself verkeerd nie – trouens, ander uitleggers verkies ook hierdie moontlikheid. Wanneer so ’n uitleg egter in diens van ’n bepaalde politieke ideologie* gestel word, kan dit lei tot sondige onderdrukking.

 

Sidebar