TOT NUT VAN HET ALGEMEEN

TOT NUT VAN HET ALGEMEEN (1804–1870), die eerste privaatskool met Nederlands as voertaal op Suid-Afrikaanse bodem, is geskoei op ’n Nederlandse model met dieselfde naam (hoewel hulle die “het” meestal afgekort het tot ’t en dit hier nie so dikwels gebeur het nie). Die uitgangspunt van die skool se omvattende leerplan was om die totale kind met die oog op die lewe en werk op te voed. Daarom was daar heelwat vakke wat nie by ander Kaapse skole aangebied is nie, en heelwat meer onderwysers. Van sy bekende oudleerlinge is JH Hofmeyr* (Onze Jan) en Jan Brand (later president van die Oranje-Vrystaat).

Die skool was aanvanklik in Strandstraat geleë (waar die Holiday Sun-hotel tans is). Dit is later na die nuwe skoolgebou in Koningin Victoriastraat verskuif (vandag die Anneks van die Kaapse Hooggeregshof). Tot in daardie stadium het onderwysers in gehuurde kamers by huise, konsistories en solders skoolgehou. Tot Nut Van Het Algemeen het die Nederlandse riglyne vir skoolgeboue gevolg: groot vensters, hout­vloere (nie klipvloere nie), ’n stoof vir verhitting, stoele en lessenaars wat spesiaal ontwerp is, en ’n swartbord. In 1833 was die skool een van die 28 prominente landmerke in die Kaap. Engels is vir die eerste keer in 1833 in die klaskamer gebruik, maar teen 1840 was die skool volledig pa­rallelmedium. Teen 1834 het Tot Nut 360 leerders gehad. Stephanus de Kock was vir 30 jaar verbonde aan die skool, waarvan hy die laaste 20 jaar skoolhoof was. Vanweë stygende koste, die groot aantal onderwysers en die staatsubsidie wat van die begin af dieselfde gebly het teenoor anders skole s’n wat jaarliks aangepas is, het die skool begin noustrop trek. Ná die gerespekteerde en charismatiese De Kock se afsterwe, het die beheerraad besluit om die skool te sluit.

Vir verdere lees: Sigi Howes 2004 A School’s Response to Political and Philo­sohical Changes in the 19th Centrury. A Case study of the “Tot Nut Van Het Algemeen” School, Cape Town 1804–1870. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

 

Sidebar