TRACY, DAVID W

TRACY, DAVID W (1939–), ’n Katolieke* teoloog, word in 1963 as priester*2 in Bridgeport, Connecticut gewy. Hy verwerf in 1969 ’n PhD oor die werk van sy leermeester, Bernard Loner­gan. Vanaf 1967–1969 doseer hy aan die Katolieke Uni­ver­siteit van Amerika in Washington. In 1969 begin hy aan die Universiteit van Chicago doseer en word later professor. Hy het verskeie eredoktorsgrade ontvang.

Tracy word beskou as een van die meer oorspronklike teoloë van die afgelope dekades, in besonder wat sy bydrae tot die hermeneutiek* en teologiese metode be­tref. Hy gee veral in sy vroeë werk Blessed Rage for Order (1975) en The Analogical Imagination (1981) hieraan aandag. In eg ontwikkel hy ’n revisio­nistiese model waarin die twee bronne van die teologie*, naamlik algemeen menslike ervaring en die relevante tekste van die Christelike tradisie, in ’n kritiese korrelasie op mekaar betrek word om mekaar te konfronteer en wedersyds te belig. In die tweede werk aanvaar hy die uitdaging om die grondslae vir ’n sistematiese teologie in ’n pluralistiese konteks uit te spel. Hierin vermy hy die uiterstes van relativisme/to­tale verdraagsaamheid enersyds en andersyds van monisme/private waarheid en beywer hy hom vir ’n geloofwaardige pu­blieke teologie.

Vir verdere lees: WG Jeanrond en JL Rike (red) 1991. Radical Pluralism and Truth: David Tracy and the Hermeneutics of Religion. New York: Crossroad. JP McCarthy 1996. Blessed Rage for Order: The New Pluralism in Theology. Chicago: University of Chicago Press. D Tracy 1990. Dialogue with the Other: The Inter-religious Dia­logue. Grand Rapids: Eerdmans. D Tracy 1994. On Naming the Present: God, Her­meneutics, and Church. Maryknoll, NY: Orbis.

Sidebar