TRADISIE

TRADISIE is ’n Katolieke* en Ortodokse* begrip van hoe God die openbaring* wat deur Jesus* bekend gemaak is, vir later ge­slagte deurgee. Dit gaan uit van die standpunt dat Jesus ’n gemeenskap, sy kerk*, ge­stig het, waaraan Hy die heilswaarhede, heils­middels en sy lewenspatroon toe­vertrou het. Deur die werk van die Heilige Gees* in die lede van hierdie gemeenskap, onder die toesig van die pous* en bis­kop­pe*, sou hierdie erfenis ongeskonde van geslag tot geslag deurgegee word.

Onder leiding van die Heilige Gees, is in bepaalde historiese omstandighede in die eerste Christelike eeu aspekte van hierdie oorlewering of tradisie op skrif gestel, in wat vir ons bekend staan as die Nuwe Testament*. Dit bly die onvervangbare oergeheue van die kerk, waarteenoor alle later ontwikkelings getoets moet word, om seker te maak dat hulle in ooreenstemming daarmee is.

Dat ’n mens van ontwikkeling praat, sê klaar dat die tradisie nie ’n vasgestelde museumstuk is nie, maar ’n lewende oorlewering, wat uitgebou word deur die erva­ring van die lidmate van die liggaam van Christus* wat met hulle Goddelike Hoof saamleef en deur die Heilige Gees van sy volheid ontvang (Joh 1:16-17; 16:13-14). Nuwe kulturele en historiese omstandig­hede bied nuwe moontlikhede aan verborge aspekte van die tradisie om te ont­kiem.

In Protestantse* kringe was daar deur die jare beswaar geopper teen die gesag wat die Katolieke Kerk aan die kerklike tradisie toeken – naas die gesag van die Heilige Skrif, soos die Protestante dit verstaan. Vir verdere lees: A Meredith 1971. Theo­logy of Tradition. Cork: Mercier Press.

Sidebar