TRADISIONALISME

TRADISIONALISME. Tradisies is min of meer standhoudende sosiale vorms van opvattings, optredes, gewoontes en ge­bruike. Dit behoort tot die aard van ’n tradisie dat dit kollektief of sosiaal is (een mens kan nie alleen ’n tradisie navolg nie) en dat dit duursaam is (’n tradisie kan nie geskep word nie, dit vind ongedwonge inslag met verloop van tyd of sterf uit as dit geloofwaardigheid verloor). Diegene wat waarde heg aan ’n tradisie, is oortuig daarvan dat dit inherent waardevol of geloof­waardig is; die opvattings en optredes wat daarin beliggaam word, word beleef as betroubare waardes en lewenstrategieë. In die alledaagse lewe word tradisionalisme, veral in liberale* moderne samelewings, vereenselwig met weerstand teen verande­ring en vooruitgang, nostalgie na die ver­lede, verkramptheid, uit-pas-wees met die wêreld.

In die filosofie* verwys dit na ’n manier van denke wat ’n oordrewe geloof in rasio­nale besluitneming en indiwiduele ou­tonomie wil temper deur aandag te vra vir die kollektiewe en historiese wyshede en waarhede wat dikwels, hoewel nie altyd nie, neerslag vind in tradisies en instellings. Edmund Burke (1729–1797) en meer eietyds Michael Oakeshot (1901–1992) is belangrike verteenwoordigers van tradisionalisme.

 

Sidebar