TRANSENDENSIE VAN GOD

TRANSENDENSIE VAN GOD. In die geskiedenis van die teologie* sowel as die filosofie is die begrip “transendensie” van besondere belang in die kennisleer (epistemologie), en word dit altyd direk gekontrasteer met die begrip immanensie*. Die teologiese begrippe “immanensie” en “tran­sendensie” gee uitdrukking aan die oortuiging dat, enersyds, God se alomteenwoor­digheid die wêreld wesenlik deurdring en onderhou deur God se almag, en, andersyds, dat God tog ook radikaal anders en onderskeie is van die wêreld en nie onmiddellik bereikbaar of toeganklik is vir enige menslike kennis nie. Sonder die gepaard­gaande idee van God se transendensie sou immanensie maklik tot vorms van panteïsme en panenteïsme* kon lei, waar God volledig, of gedeeltelik, met die skep­ping* en die geskiedenis van die skepping geïdentifiseer word. In die huidige teologie is daar ’n toenemende bewuswording dat die idee van God se transendensie ook op ’n abstrakte manier oorbeklemtoon en oor-verteoretiseer kan word. In die gerefor­meerde* teologie word die idee van die transendensie van God voluit gehandhaaf. Hier is daar ’n kwalitatiewe verskil tussen God en wêreld, God en die mens, en die paradoksale waarheid dat in Jesus* Christus* die ewige of transendente God ons wêreld op ’n immanente manier binnegedring het, kan slegs in die geloof* aanvaar word.

 

Sidebar