TRANSSUBSTANSIASIE

TRANSSUBSTANSIASIE. Hierdie term word in die Katolieke teologie* vanaf die elfde eeu gebruik om die Katolieke geloof in verband met die eucharistie* te verduidelik. Aristoteles, die Griekse filosoof, het oor stoflike dinge gepraat, volgens een vertolking, in terme van die uiterlike ge­daante en ’n innerlike werklikheid of sub­stansie. Aristoteles se terminologie is deur skolastieke teoloë (Kyk by: Skolastiek) gebruik om te verduidelik hoe die uiterlike gedaante van brood onveranderd kan bly terwyl die innerlike werklikheid van brood deur die glorieryke liggaam en die innerlike werklikheid van wyn deur die glo­rieryke bloed van Christus* vervang word.

Die Katolieke Kerk* het van die staan­spoor af Jesus* se woorde by die laaste avondmaal* letterlik geglo waar Hy gesê het: “… dit is my liggaam”, “… dit is my bloed” (Matt 26:26-28). “Transsubstansiasie” kom ook soms in amptelike dokumente voor soos bv Lateraan IV (1215) en Trente* (1551). Nadat die rol van skolastieke denke in die laaste veertig jaar getaan het, word dié term deesdae maar min gebruik. (Kyk ook: Paschasius, Radbertus.)

Die Katolieke en Protestantse* teologie verskil oor hierdie saak. In die Protestantse (gereformeerde*) teologie word aanvaar dat Christus teenwoordig is in die nagmaal*, maar dan in geestelike sin soos dit deur die geloof* ervaar word.

Vir verdere lees: K Rahner 1975. Ency­clo­pedia of Theology, A Concise Sacramentum Mundi. Londen: Burns Oates.

 

Sidebar