TRAUMA

TRAUMA is afgelei van die Griekse woord wat “’n wond” beteken. Dit kan ook as “skade” of “verlies” vertaal word. Trauma verwys dus na ’n nadelige invloed op die bestaan van ’n persoon. Dit kan van ’n fisie­ke (bv ’n motorongeluk, aanranding of verkragting) of emosionele (huwe­liks­ontrou, ontslag by ’n werk) aard wees. Voorts kan dit ’n onvoorsiene ge­beurtenis wees soos ’n natuurramp (aardbewing of oorstroming), of dit kan ’n langdurige blootstelling van fisieke en emosionele aard (seksuele molestering of emosionele verwaarlosing in ouerhuis of huwelik) wees.

Die reaksie op ’n trauma word gewoonlik “post-traumatiese stres” (PTS) genoem. Die reaksie kan fisiek (soos eet- en slaapstoornisse), emosioneel (depressie en apa­tie), verstandelik (onvermoë tot konsentrasie en besluitneming) van aard wees, of ’n kombinasie van hierdie faktore.

Die oorweldigende aard van ’n trauma skep gewoonlik baie vrae in die gemoed van die gelowige. Dit is moeilik om geloofs­vertroue met die traumatiese gebeure te versoen. Vrae oor vertroue in God, die sin van lyding, die verwerking van die nega­tiewe gevoelens teenoor hulle wat jou die trauma aangedoen het, asook die soeke na ’n betekenisvolle bestaan, oorheers die gemoed van die gelowige.

Trauma-beraad behels ’n terapeutiese proses waartydens die persoon vryelik oor die trauma en die effek daarvan kan praat. Die persoon word begelei tot die besef dat die bestaan ná die trauma nog betekenisvol kan wees.

Sidebar