TRENTE

TRENTE. Die eerste pous* ná die Refor­masie (Hervorming*) wat daadwerklik met hervorming in die Katolieke Kerk* begin het, was Pau­lus III wat van 1534–1549 pous was. Nie­teenstaande groot politieke en teologiese meningsverskille, is gedurende 1545 met ’n konsilie in die stad Trente begin. Die konsilie het op kerkleer gefokus en hervormingsdekrete bygevoeg.

Die Konsilie van Trente het verskeie kere verdaag, bv in 1548 toe ’n plaag uitgebreek het. Julius III (1550–1555) het die konsilie weer byeengeroep. ’n Mislukte poging om direk met Protestantse* verteenwoordigers te onderhandel, het tot ’n ver­dere verdaging gelei (daar was ’n Prote­stantse leër wat suidwaarts beweeg het). Uiteindelik het Pius IV (1559–1564) besluit dat die konsilie voortgesit moet word en die finale sitting het van 1562 tot 1563 plaasgevind.

Die invloed van hierdie konsilie kan moeilik oordryf word. Oor ’n groot verskeidenheid van onderwerpe het dit die riglyne bepaal wat die kerk daarna gevolg het. Dit het tegelyk aandag gegee aan die kritiek van die Reformasie, en probeer om die Katolieke Kerk werklik te hervorm.

 

Sidebar