TREURNICHT, ANDRIES PETRUS

TREURNICHT, ANDRIES PETRUS (1921–1993) was, nadat hy in 1945 as predikant gelegitimeer is, reisende sekretaris van die Christen-studentevereniging (CSV)*, predikant op Oudsthoorn (waar hy in 1949 die skrumskakel van Suidwestelike Distrikte teen die All Blacks was), Ronde­bosch (waar hy sy doktorsgraad oor Abra­ham Kuyper* aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het), Stellenbosch en in Pretoria. In 1960 word hy redakteur van Die Kerkbode, en maak gou sy merk toe hy sterk standpunt inneem téén die besluite van die Cottesloe-kerkeberaad* wat ná die Sharpville-onluste gehou is. Treurnicht word bekend as ’n behoudende kerkman wat sy me­nings goed artiku­leer en hom ondub­belsinnig agter die kerklike en landsbeleid van apart­heid*/afsonderlike ontwikkeling stel. Treurnicht het week­liks duidelik geskryf wat die kerk se siening van sake is of behoort te wees, en is deur baie beskou as ’n uitstekende woord­voerder van die NG Kerk* – ook met boeke soos Op die keper en Credo van ’n Afrikaner. Mettertyd word hy assessor (ondervoorsitter) van sowel die Kaapse as die Algemene Sinode. In 1967 is hy deur BJ Vorster*, eerste minister, gevra om redakteur van die nuwe Pretoriase middagblad, Hoofstad, te word. Treurnicht het die uitnodiging aanvaar, maar het daarna vanweë sy konserwatiewe of “regse” standpunte meermale met Vorster gebots. In die 1970’s word hy volks­raadslid vir Waterberg en adjunkminister van Bantoe-onderwys. Tydens die Soweto-jeugopstand (1976), wat onder meer oor Afrikaans* in swart skole gegaan het, neem hy ’n onbuigsame standpunt in. In die 1980’s word hy leier van die Transvaalse Nasionale Party en minister van staatsadministrasie, maar sy eise dat apartheid sonder toegewings deurgevoer moet word, bring hom al hoe meer in botsing met eerste minister PW Botha* , en hy verskil ook in die openbaar skerp van die koers wat die NG Kerk* met die beleidstuk Kerk en samelewing (1986 en 1990) ingeslaan het. Hy tree uit die kabinet en word stigterleier van die Konserwatiewe Party. Dié party behaal heelwat sukses onder wit kiesers, maar toe pres FW de Klerk* in 1992 ’n referendum onder blanke kiesers uitskryf oor sy onderhande­lings vir ’n nuwe staatkundige bedeling, verloor Treurnicht se “nee-” standpunt beslissend. Hierdie knap teoloog/filosoof, boei­en­de prediker, spreker en skrywer – en wat in ’n stadium baie naby die eersteministerskap van Suid-Afrika gekom het – het as ’n teleurgestelde mens gesterf.

Sidebar