TRIGOTOMIE

TRIGOTOMIE is ’n siening van die mens wat verwant is aan digotomie oftewel dualisme*. Waar digotomie die mens in twee selfstandige dele verdeel, naamlik siel* en liggaam*, gebruik trigotomie ’n driede­ling. Na aanleiding van 1 Tess 5:23 word geredeneer dat die mens uit drie afsonderlike dele, naamlik gees*, siel en liggaam, bestaan.

’n Trigotomistiese mensbeskouing kan op verskillende maniere uitgewerk word. In die Middeleeue is daar op ’n hiërargiese manier aan die liggaam as die laagste en die gees as die hoogste menslike vermoë, met die siel as skakel tussenin, gedink. Selfs Luther* het dié soort terminologie gebruik, maar dit tog met ’n ander inhoud begin vul. Dit gaan vir die Hervormers meer oor die religieuse verhouding tussen die mens en God as oor die filosofiese kategorieë.

Hedendaagse Christendenkers maak selde nog van ’n digo- of trigotomie ge­bruik. Hulle beklemtoon die eenheid van die mens. Die Bybel* gebruik ook nie die begrippe gees, liggaam en siel in ’n wetenskaplike sin nie.

Sidebar