TROAS

TROAS, waarvan die ruïnes vandag as Eski Stanboul of “Ou Konstantinopel” bekend staan, is geleë in die noordweste van Klein-Asië*, op die kus van Misië, en is waarskynlik vernoem na die bekende Troje wat ongeveer 6 km verder noord geleë was. Op sy dag was Troas een van die bekendste stede in die wêreld (aldus Strabo) met tot soveel as 100 000 inwoners. As hawestad was dit ’n belangrike deurgangsroete en knooppunt vir verkeer deur die Hellespon­tus na die Ooste, na belangrike stede in die suide, en per seereis na Atene* en Neapolis in Masedonië*. Sedert sy begin as Sigia onder leiding van Antiogus*, het Troas oor baie eeue ’n interessante geskiedenis gehad soos blyk uit die betrokkenheid van soldate in die beleg van Troje, en sy verskillende naamsveranderings. Troas was tot en met die totstandkoming van Konstantinopel* in die vierde eeu nC belangrik vir die Ro­meinse Ryk* vanweë polities- en ekonono­mies-strategiese redes, maar ook omdat daar sprake was van ’n legendariese band tussen Rome en Troas. Daar word vier keer in die Nuwe Testament* na Troas verwys (Hand 16:8, 11; 20:5-6; 2 Kor 2:12; 2 Tim 4:13). Paulus* se sending*reise neem hom by meer as een geleentheid naby (Hand 16:8-11) of selfs deur en tot in Troas (Hand 20:5-6).

 

Sidebar