TROFIMUS

TROFIMUS was ’n medewerker van Paulus* in Efese*. Hy was deel van Paulus* se afvaardiging wat die kollekte wat vir die gemeentes in Jerusalem* ingesamel is, na Jerusalem gebring het. Trofimus het Paulus op sy reis vanaf Korinte* oor Masedonië* na Jerusalem vergesel (Hand 20:40). Trofimus was nie ’n Jood* nie. Volgens Hand 21:30 het daar ’n opstand onder die Jode in Jerusalem ontstaan omdat hulle beweer het dat Paulus Trofimus wederregtelik saam met hom in die binnehof van die tempel*4 ingeneem en die tempel sodoende onthei­lig het (vgl Hand 24:6). Aan die einde van 2 Timoteus (4:20) lees ons dat “Paulus” ’n siek Trofimus in Milete moes agterlaat. Hierdie inligting kan nie met Hand 20:4 en 21:29 versoen word nie en noop navorsers wat Paulus as die historiese outeur van 2 Timoteus* beskou, om te veronderstel dat Paulus ná sy gevangenskap in Rome* weer na Milete in die provinsie Asië gereis het.

 

Sidebar