TROON VAN GOD

TROON VAN GOD. ’n Troon was in die tyd van die Bybel* die setel waarvandaan mag* uitgeoefen is (1 Kon 2:19). In die koninklike hof het die koning* in sy troonsaal op sy troon gesit met ’n voetbankie vir sy voete. As magsfiguur het hy hiervandaan re­geer, politieke en regsbesluite geneem, veroordeel en genade* bewys. Die troon self kon ’n spesiale houtstoel wees wat meestal met goud oorgetrek is, of ’n klipstoel uit marmer. Dit het die eerbied en gesag gesimboliseer wat aan die posisie gekoppel is. Die koning is as regeerder immers God se verteenwoordiger op aarde, en sy troon is ’n afskaduwing van God se troon in die hemel* (1 Kon 22:10, 19; Op 20:11). Rondom die troon het die koning se dienaars diens gedoen. Die troon is in die Bybel dus ’n simbool van mag, regering en regspraak*.

God word beskryf as die Almagtige* en Regverdige wat op sy ewige troon sit met ’n verblindende glans om Hom. Jerusalem* word soms die troon van God genoem, veral die tempel*. So ontvang Jesus* die troon van sy voorvader Dawid* (Luk 1:32; 2 Sam 7:12-16). As God sit Hy op die troon waarvandaan Hy as Seun van die Mens* sal oordeel* (Matt 25:31). Die “troon van God” behoort simbolies verstaan te word vir die almag en geregtigheid* van God.

 

Sidebar