TRUTER, JOHANNES ANDREAS (SIR JOHN)

TRUTER, JOHANNES ANDREAS (SIR JOHN) (1763–1845) studeer in die regte aan die Universiteit van Leiden, Nederland. In 1789 tree hy in diens van die kantoor van die fiskaal in Kaapstad. Vier jaar later word hy sekretaris van die raad van justisie waar hy praktiese ondervinding opdoen. Ná die tweede Britse besetting in 1806, teken Truter die akte van kapitulasie as getuie.

Hy word in 1809 fiskaal en tree op as openbare aanklaer. Gedurende sy amps­termyn word die leningplaasstelsel deur die ewigdurende erfpagstelsel vervang. Van 1812–1828 is hy hoofregter (president) van die raad van justisie, asook president van die weeskamer.

As politieke kommissaris verteenwoor­dig Truter die owerheid in November 1824 by die eerste sinode* van die Kaapse Kerk* – asook by opvolgende sinodes tot 1837 – waar sy regskennis en onderskei­dings­vermoë ’n bate is.

Hy tree op Rondebosch af en spits hom toe op kerklike en opvoedkundige sake. In 1828 raak hy betrokke by die stigting van die NG gemeente Wynberg waar hy as skriba en in die kerkraad* dien. Hy is ook een van die stigters van die Zuid-Afrikaansche Athenaeum (South African College).

As staatsamptenaar en regsgeleerde lewer hy sulke uitstekende openbare diens, dat hy in 1820 deur koning George IV vir sy lojaliteit tot ridder geslaan word.

Vir verdere lees: WJ de Kock 1968. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, Deel I. Pretoria: RGN.

Sidebar