TSELE, MOLEFE SAMUEL

TSELE, MOLEFE SAMUEL (1956–) is in Daveyton, Benoni, gebore en het ná sy skoolopleiding by die Universiteit van die Noorde regte begin studeer, maar moes dit opskort nadat die universiteit gesluit is – onrus het op die kampus uitgebreek nadat Steve Biko* in aanhouding dood is. Tsele was ’n stigterslid van die Azanian Students’ Organisation. Hy het sy studie by Unisa voortgesit, maar hierdie keer vir teologie* ingeskryf met die oog op ’n bediening in die Evangelies-Lutherse Kerk*. Hy is in 1982 georden en het die gemeentes Kagiso (Kru­gersdorp), Phiri en Dobsonville in Soweto bedien.

Hy was ook navorsingsbeamte by die In­sti­tuut vir Kontekstuele Teologie en be­trokke by die opstel van die Kairos-doku­ment*. Hy was ’n stigterslid van die Soweto Parents’ Crisis Committee (1985) en is later tot sekretaris van die National Educational Crisis Committee verkies. Ná twee jaar as politieke gevangene is hy in 1988 vrygelaat. Hy is toe na die VSA waar hy sy doktorsgraad in politieke etiek aan die Lutherse universiteit in Chicago verwerf het.

Tsele het in 1995 na Suid-Afrika teruggekeer en aan die Lutherse Seminarium in Mapumulo, Natal, begin doseer. In 2000 is hy as raadgewer van die premier van Noord­wes aangestel en in 2001 is hy verkies tot sekretaris-generaal van die Suid-Afri­kaanse Raad van Kerke (SARK)*. Hy het in 2006 uit dié pos getree en was daarna Suid-Afrika se ambassadeur in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).                         

Sidebar