TSOTSI-EVANGELIE

TSOTSI-EVANGELIE. Frans van Rens­burg het in 2006 Die tsotsi-evangelie – O Mri vannie padkamp gepubliseer. Hierin verplaas Van Rensburg die verhaal van die Matteus-Evangelie* na ’n padkamp buite Carolina, Jerusalem word Marabastad, ’n donkie ’n “moegperd” en engele “skoonwerkers”. ’n Woordelys agterin help diegene wat sukkel met die lees daarvan. Tog is daar eintlik net ’n handjievol woorde waarvan ’n mens die betekenis vooraf moet ken – onder meer zwakal (luister), notch (kyk), dowel (sing) en sonop (hemel). Die res kan jy uit die verband, en met die Matteus-Evangelie in gedagte, aflei.

Tsotsi-Afrikaans het volgens Van Rens­burg in sy “Voorspraak” wel Afrikaans* as basis, maar die woordeskat is uit verskillende tale saamgestel. Daar is woorde uit Engels, Amerikaanse sleurtaal, die Nguni­tale, Sotho en selfs Portugees. Dis ’n straattaal wat min of meer vanaf die 1920’s en daarna deur stedelike swartmense in plekke soos Sophiatown en Marabastad, op straathoeke en in sjebeens, gepraat is. Dis te onderskei van Scamto. Tsotsi-Afrikaans sal in ’n sin van tien woorde dalk twee Zoeloe-woorde hê. Scamto sal in so ’n sin slegs twee Afrikaanse woorde hê. Scamto is die straattaal of flaaitaal wat vandag in die townships soos Soweto deur die jeug gepraat word. Terwyl Tsotsi-Afrikaans en Scamto beide straattale is, is Fanagalo ’n myntaal. Dit was in sy “vertaling” Van Rensburg se uitgangspunt dat, wanneer jy in ’n taal kan sê: “Hoezit my bra,” jy ook in daardie taal behoort te kan sê: “Prys die Laaitie van God.” En dan word “Ons Vader wat in die hemel is” in Tsotsi-Afrikaans “Onse Dada wat bo die sonop is …” Van Rensburg skryf in sy voorwoord dat tsotsitaal vandag deur die jongelinge in die tronke lewend gehou word, en die woorde­skat groei daagliks met elke vonnisoplegging.

Vir verdere lees: Frans van Rensburg 2006. Die tsotsi-evangelie – O Mri vannie padkamp. Pretoria: Lapa-uitgewers.

 

Sidebar