TSWANAS EN SOTHO’S EN DIE CHRISTELIKE GELOOF

TSWANAS EN SOTHO’S EN DIE CHRISTELIKE GELOOF. Die 19de-eeuse ontmoeting van Tswanas en Sotho’s met die Christelike geloof* verskil in belang­rike opsigte van dié van die Nguni-sprekers (soos die Zoeloes* en die Xhosas*). Toe sendelinge* aan die begin van die 19de eeu onder hulle begin werk het, het hulle in statte of klein dorpies gewoon, geregeer deur ’n hoofman. Sommige van hierdie hoofmanne het ’n groter belangstelling in die Christelike geloof getoon as hulle Nguni-eweknieë, wat die vestiging van die Christendom* onder hulle mense vergemaklik het. Naas die Londense Sendinggenoot­skap (LSG)*, was daar ook ander groepe onder die Tswanas en Sotho’s aan die werk. Verskeie Bybelvertalers het in hierdie tyd vertalings geproduseer en sowel die Tswanas as die Sotho’s het vroeg reeds dele van die Bybel* in hulle taal gehad. Die “Sotho-Tswana” – mense wat kultureel nou aan mekaar verbonde was – het in die 19de eeu ’n groot deel van suidelike Afrika bewoon: vanaf die Oranjerivier in die suide, die Drakensberge in die ooste, die Sout­pansberge in die noorde tot by die Kala­hari-woestyn in die ooste. Skeiding tussen hulle is veroorsaak deur die verwoesting van die Difaqane (Mfecane*) in die 1820’s en die Groot Trek* in die 1830’s – daarna was die Sotho’s in die ooste en die Tswanas in die weste.

Onder die Tswanas het die Christelike geloof in die 19de eeu in vier fases versprei, soos verteenwoordig deur die LSG se vroeë direkteur, John Campbell, wat van 1812–1814 en 1818–1821 onder hulle gewerk het, Robert Moffat* (1821–1870), David Livingstone* (1841–1852) en John Macken­zie (1860–1899). In 1860 het die Tswana-prins, Kgama, hom laat doop*, sy rug op tradisionele gebruike gekeer en, nadat hy hoofman geword het, die Christendom onder sy mense bevorder. Hy het tot 1923 geregeer en was sterk Brits-gesind. Hy is deur van die sendelinge* beskou as ’n model-Afrika-heerser.

Onder die Sotho’s is in 1833 met sen­dingwerk begin toe die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap opgedaag het. In die daaropvolgende fase, met botsings tussen die Sotho’s, Boere, Koras en Griekwas*, was daar by van die Sotho’s ’n teenreaksie teen die Christelike geloof. Ná 1854 het ’n lang tyd van konsolidasie gevolg met onder meer sendingwerk deur  Katolieke*, Angli­kane* en Metodiste*.

Die sendelinge van die Paryse Sending­genootskap het aanvanklik goeie reaksie by die Sotho’s gekry en Moshoeshoe (Mosjesj) het graag met die sendelinge lang gesprek­ke oor die godsdiens gevoer. Kritiek van die sendelinge teen Sotho-gebruike soos poli­gamie* en kleredrag, het egter weerstand by baie uitgelok. Mettertyd, ook as gevolg van spanning oor grondgebied, het die weerstand gegroei en het Moshoeshoe Afrika-religieuse gebruike laat herleef. Teen 1852 was die Christelike geloof aan die taan en het die tradisionele godsdiens sterker ge­word. Van 1858 tot 1884 was die Sotho’s onophoudelik in oorloë gewikkel en hulle verhouding met die Boere was dikwels sleg. Die Boere, ná 1854 ’n tyd lank in beheer van die Oranje-Vrystaat, het die sendingstasies dikwels negatief gesien as plekke waar onrus en opstand gestook word. Teen 1892 het tussen 9% en 10% van die Sotho’s hulleself volgens die Paryse Sendinggenootskap as Christene beskou.

Van die begin van die 20ste eeu af het Afrika-onafhanklike kerke* ’n al hoe groter rol begin speel – onder die Tswanas en Sotho’s egter in ’n mindere mate as onder ander groepe in suidelike Afrika. In die 20ste eeu het die Christelike geloof gegroei, ook vanweë sendingaksies van Afrikaanse kerke soos die NG Kerk* , maar verstedeli­king het sy tol geëis en sekularisasie* meegebring. Die Christelike geloof, wel in verskillende variasies en versplinter in baie kerke, is in die vroeë-21ste eeu dominant onder die Tswanas en Sotho’s.

Vir verdere lees: Richard Elphick en Rodney Davenport (red) 1997. Christianity in South Africa. A Political, Social and Cultural History. Kaapstad: David Philip.

 

Sidebar