TUG

TUG is ’n vorm van dissipline of teregwy­sing in geval van volharding in sonde* en ongehoorsaamheid. So tug die Here* die­gene wat Hy liefhet (Heb 12:6) tot hulle beswil (vers 10). Uiteindelik lewer die tug die vrug van vrede op vir dié wat daardeur gevorm is omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God (Heb 12:11). Tug kan ook gesien word as opvoeding (Heb 12:7). Ouers moet hulle kinders groot maak met tug en vermaning soos die Here dit wil (Ef 6:4). Die wet word in Gal 3:24 volgens die 1953-Afrikaanse Vertaling ons “tugmeester na Christus” genoem.

Christus* het aan sy kerk die opdrag gegee om die tug toe te pas in gevalle van volharding in die een of ander sonde*. Dit is een van die merktekens van die ware kerk* en gaan oor die hantering van die sleutels van die hemelryk in die Naam van Christus (Matt 16:19; 18:15-18). Die bedoeling van die tug is die heiligheid van die kerk, die be­houd van die sondaar en die eer van God. Die tug bestaan uit vermaning, afhouding van die sakramente* en uiteindelike afsny­ding in geval van volharding.

Wanneer ampsdraers* ’n growwe openbare sonde begaan, kan hulle uit die amp geskors en/of afgesit word.

Sidebar